elogo_mic.gif (12023 bytes)

Up ]

Sien waar net 'n Plantermonitor-ogie kan sien ... in elke saadbuis van jou planter. Maak gebruik van Electrolee se jarelange ondervinding, innovasie en tegnologie om te verseker dat elke pit val waar hy moet.

Met die hulp van die Electrolee Plantermonitor kan verliese tot 'n minimum beperk word. Hierdie plantermonitor kan jou bystaan om dooie rye uit te skakel en selfs kunsmislose rye stop te sit. Die Digitale Eenheid (wat opsioneel bygevoeg kan word) gee onontbeerlike inligting omtrent die plantproses. Gebruik die Digitale Eenheid om te sorg dat jou planter die hele plantseisoen sy beste lewer.

Werk met die Electrolee Plantermonitor

Op die monitorpaneel wys die boonste ry liggies hoe die saad deur die saadbuise van 'n planter val. Elke liggie is elektronies met 'n gemeenskaplike kabel verbind aan sy ooreenstemmende sensor op die planter. Die plantermonitor kan gebruik word om saad, vloeibare kunsmis, korrelkunsmis en die draai van dryfaste te monitor. Daar is spesifieke sensors vir die verskillende items wat gemonitor moet word. Vir elke item wat gemonitor moet word, moet daar 'n kanaal beskikbaar wees.

Die Plantermonitor is toegerus met 'n alarm wat skree kort nadat die item wat gemonitor word, (saad/kunsmis/aste)  ophou met gebeur.  Sodra die alarm begin skree, kan die trekkerdrywer 'n knoppie druk (genaamd "Alarm Acknowledge") om dit stil te maak. Dit wys vir hom met 'n liggie, by watter kanaal (ry) die probleem is. Hy kan dan stop om ondersoek in te stel.

Vir elke item wat gemonitor wil word, moet daar 'n kanaal beskikbaar wees op die Plantermonitor. 'n Minimumstelsel bestaan uit 'n monitor met net soveel kanale as wat daar planterrye is. So bv. kan 'n PM4 monitor gebruik word op 'n 4-ry planter. In dié geval kan 'n monitor nie uitgebrei word met die opsionele Digitale Eenheid nie. 'n Opsionele Digitale Eenheid kan wel bygevoeg word waar daar voorsiening gemaak is om ten minste een as op die monitor te kan akkommodeer. In bogenoemde geval moet dan eerder 'n PM6 monitor gekoop word, sodat daar "plek" is vir die monitor van 'n as. Die Digitale Eenheid maak gebruik van een assensor om afstand afgelê, te bepaal. (LW, die Digitale Eenheid is 'n fabriekstoevoeging en moet so bestel word.)

Die Electrolee Plantermonitor skakel ongebruikte kanale outomaties uit. 'n PM4 monitor kan bv. op 'n 3-ry planter gebruik word. Deur by een van sy kanale nie 'n sensor in te prop nie, en daarná die Plantermonitor aan te skakel, registreer die Plantermonitor dat daardie kanaal uitgeskakel moet bly.

Waar kunsmis nie per ry gemonitor word nie, kan die draai van die kunsmisaandryf-as gemonitor word. Wanneer 'n ketting dus afval en die as gaan staan, word dit per alarm onder die trekkerbestuurder se aandag gebring. Om asrotasie te monitor, word 'n magneet en magneetsensor-kombinasie gebruik. Elke as-omwenteling word op die Plantermonitor se paneel sigbaar, deurdat die ooreenstemmende liggie met elke omwenteling een keer flits.

Terwyl die plantproses normaal voortgaan, is die alarm stil. Sodra aan die einde van die ry gestop word om om te draai, sal die alarm begin skree. Dit is omdat al die prosesse wat gemonitor word, tot stilstand kom. Sodra die planter weer begin plant, skakel die alarm self af. Dit bevestig dat al die prosesse weer normaal voortgaan. Indien modder byvoorbeeld 'n saadbuis verstop het, sal die alarm baie gou begin skree.

Die Plantermonitor monteer maklik.  Dit kan op verskillende maniere monteer word.   Bv Twee monteerringetjies, wat voorsien word, word gemonteer aan die trekker se instrumentpaneel met behulp van "Pop rivets".  Die monitor word dan hieraan vasgetrek met behulp van kabelriempies ("cable ties"). Hierdie is 'n "sterk genoeg, maar nie- permanente" manier, om die monitor aan die trekker te heg vir die plantseisoen.  Dit is 'n goeie gebruik om die monitor op 'n veilige plek te bêre terwyl dit nie in gebruik is nie.  'n Meer permanente manier om die monitor te monteer, is ook moontlik.  Daar is monteergate voorsien in die pootjies om die monitor aan die trekker te heg deur middel van skroewe.  Met pootjies wat 360 grade kan draai,  kan die monitor teen  byna enige hoek gemonteer word:

  • Horisontaal: Bv op die trekker se instrumentpaneel.  'n Ander plek is op die modderskerm.

  • Vertikaal: Bv. teen 'n kajuit se sypaneel of selfs 'n kajuit se syvenster

  • Oorhoofs: Bv hangende aan 'n kajuit se plafon of onder 'n oop dakkie.

 

Kortpad na beskrywing van Modelle

Afrikaans

PM4

PM6

PM8

PM8+2

PM16+2

Digitale Eenheid

Hektaar Meter

Onderdele

Send mail to electrolee@mweb.co.za with questions or comments about this web site.
Copyright © 2006 ELECTROLEE CC
Last modified: September 24, 2006